Kinderhel Lyrics


Aan marsjeer die kinders, nimmereindigende nag

Geen oë in hul koppe nie, donker holtes soos die graf

Swart onder hul vingernaels, maaiers in die mond

Velle flap om enkels en verslete voete vlek die grond

Niks om te onthou, treur of berou

Die vlamme ysig koud

In die Kinderhel

Die bloed in hul are verkrummelende stof

Klosse hul hare, verdorde lippe grof

Die Lied van die Vlieë op hul roofrooi wonde vleis

Strompelende lyke by die Hemelhekke weggewys

Niks om te onthou, treur of berou

Die vlamme ysig koud

In die kinderhel

Slaap pikanini, ons vee's in die kraal

Almal ons skapies en bokkies

More vroeg kry jy van soet pap 'n maal

En 'n paar spierwitte sokkies

Siele ontruim, geen asem in hul bors

Geen trane, geen glimlag

Emosie ewig opgeskort

Aan marsjeer die kinders deur die dooie donker stad

Soekend na niks op 'n eindelose Hellepad

Aan marsjeer die kinders, nimmereindigende nag

Leë droë doppe, skynlewe uit die graf

Die Lied van die vlieë op hul roofrooi wonde vleis

Strompelende lyke by die Hemelhekke weggewys

Niks om te onthou, treur of berou

Die vlamme ysig koud

In die kinderhel